Trauma: Gewapende roof

Trauma: Gewapende Roof

Oordenking: Markus 15:34

 

Trauma is om ‘n aaklige droomwerklikheid te betree.  Dit is om skielik en onverwags oorval te word met iets wat jou as’t ware in ‘n ander dimensie gooi – skok, vrees, angs, woede, ‘n oorweldigende gevoel van magteloosheid. Mense om jou verstaan dit ook gewoonlik nie, daarom gee hul raad wat jou meer ontstel as heel.  Hul kan egter nie verkwalik word nie, want hoe kan hul jou aaklige droomwerklikheid betree?

18 Februarie 2011 terwyl ons rustig gebraai het met ‘n vriendin en haar verloofde, is ons oorval deur drie rowers.  Die droom het begin toe ek opkyk en die pistool langs my vriendin se kop sien.  Jy bid die tyd om, dat hulle net moet padgee, dat hulle sal vat wat hulle wil en almal sal uitlos. 

Watter teks koppel ‘n mens aan so ‘n gebeurtenis?  Nie net een enkele teks nie, maar die hele lydingspad van Christus.  Die rede hoekom Hy gekom het: om mense, sondaars, te red.  Die oë van ‘n rower verklap die leegheid van die wêreld.  Dit verkondig die noodsaak van Christus.  Die handeling van die mens sonder liefde tref jou amper so hard soos die leed jou aangedoen.  ‘My God, waarom het U my verlaat?’  Dit kry nuwe betekenis.  Christus is verlaat om ons nooit te verlaat nie, selfs nie in die droomwerklikheid van geweld, skok of angs nie.

 

Ds Paula Eksteen-Erasmus

NHK Midrand


Lees gerus ook: Romeine 5