Donasies

As jy die inligting op hierdie blad waardevol gevind het, maak asseblief 'n bydrae vir barmhartigheid.

SMS "ADV + jou naam" na 40156 om R20 te skenk (bv ADV Naam Van)

Jy kan ook 'n aanlyndonasie maak deur enige bedrag hieronder in te sleutel en te klik op 'Skenk':


Ons maak van MonsterPay gebruik vir aanlyndonasies. Kliek hier vir meer inligting.

Kleuters - Hoe kies ek 'n dagmoeder, kleuterskool

Waarna moet ek kyk as ek 'n dagmoeder of 'n kleuterskool of bewaarskool vir my kind kies?


Kinders - die geskenk wat God, ons Hemelse Vader aan ouers gee, is ʼn baie groot opdrag en verantwoordelikheid vir die ouers.  God vertrou sy klein  kindertjies aan ouers toe om hulle volgens sy Woord te onderrig, hulle te versorg en vertroetel, te dissiplineer en lief te hê.

In die Wisselformulier van die doop belowe ons as christen-ouers om ons  ...  kind te leer wat die doop beteken en te laat grootword in die geloofsgemeenskap van Christus. Verder vra ons Here, lei ... in besonder hom/haar/hulle wat pas gedoop is – om altyd die warmte van u nabyheid te ervaar en altyd tot u eer te lewe.

Met hierdie belofte ingedagte behoort ons ook die bewaar- of kleuterskool of dagmoeder waarna ons ons kindertjies stuur, sorgvuldig te kies. Bewaar- en kleuterskole asook dagmoeders wat hulle dienste inrig om by hierdie Bybelse opvoedingseis aan te sluit, selfs sonder dat daar Bybel- of Godsdiensonderrig per se plaasvind, sal die regte omgewing en persone daarstel om babas en kleuters te versorg en te begelei terwyl hulle ouer(s) werk.

Alle plekke waar babas en jong kinders versorg en/of onderrig word, moet kennis neem van die nuwe Kinderwet. Selfs instellings wat voorheen reeds geregistreer was, moet sorg dat hulle wéér registreer kragtens die nuwe Kinderwet, wat op 1 April 2010 in werking getree het en wat oor vyf jaar ingefaseer word. Nie net die sentrum nie, maar ook die program wat aangebied word, moet geregistreer word. Die Kinderwet stel verskeie vereistes aan sentrums soos, onder andere, dat registers gehou moet word oor die toepassing van dissipline, gee van medisyne,  beserings en enige voorvalle waarby kleuters betrokke mag wees. Geen baba of jong kind mag fisiek gestraf word nie.

 

DIE MAAK VAN ‘N KEUSE

U kinders is vir u die belangrikste persone in u lewe en daarom poog u as ouers om die beste omstandighede vir u kinders te skep – ook wanneer u om welke rede ook al nie self na u kinders kan kyk nie. Omdat u kinders vir u so belangrik is, is dit noodsaaklik dat u nie u kind net op grond van ʼn advertensie in die koerant of teen ʼn muur van ʼn gebou by ʼn spesifieke dagmoeder, kleuter- of bewaarskool gaan inskryf nie. U en u kind moet ʼn besoek by die plekke gaan aflê en dan daarna, nadat u uself vergewis het van die kwaliteit van die dagmoeder, kleuter- of bewaarskool en u kind se reaksie na afloop van die besoek, besluit op die mees geskikte plek om u kind by in te skryf.

 

SAKE WAT BELANGRIK KAN WEES SLUIT IN:

Moet die dagmoeder, kleuter- of bewaarskool naby u huis of naby u werk wees? Indien dit naby u werk is, kan u vinnig by die dagmoeder, kleuter- of bewaarskool wees indien u kind siek is of u om een of ander rede nodig het. Indien u egter van openbare vervoer gebruik maak om by die werk te kom, sal die mees geskikte dagmoeder, kleuter- of bewaarskool naby u woonplek moontlik die mees aangewese wees.

Sodra u besluit het waar die dagmoeder, kleuter- of bewaarskool moet wees, moet u by van die skole besoek aflê om uself te vergewis van die verskillende skole/sentrums. Maak ʼn afspraak met die hoof van die dagmoeder, kleuter- of bewaarskool en gaan kyk hoe dit daar lyk. Sodra u u soektog na twee of drie afgeskaal het, kan u tydens aankoms- of vertrektyd van kinders by die dagmoeder, kleuter- of bewaarskool opdaag om te sien hoe die personeel en kinders met mekaar praat as hulle nie besoekers verwag nie. Indien die besoek tydens aankoms- of vertrektyd is, kan u met van die ouers wat reeds hulle kinders daar het, gesprek voer. Let ook op terwyl u daar is hoe die ontvangs of afsien van die kinders geskied. Is dit verantwoordelik, met deernis en word daar mooi met die kinders gepraat? Vra spesifiek aan die ouers waarvan hulle hou en waarvan hulle nie by die betrokke dagmoeder, kleuter- of bewaarskool hou of nie. Tydens so ʼn besoek moet u gewapen wees met ʼn notaboekie en/of ʼn vraelys (sien vraelys aan die einde) oor sekere belangrike sake sodat u die skole/sentrums na afloop van die besoeke kan vergelyk.

 

NEEM TYD OM ‘N VERANTWOORDELIKE BESLUIT TE NEEM

Neem u tyd om ʼn keuse te maak. Moenie toelaat dat u onder druk geplaas word deur opmerkings soos: ‘U moet vandag besluit of u u kind hier wil inskryf, want ek kan nie waarborg dat die plek more nog beskikbaar sal wees nie.’

Maak baie seker dat die dagmoeder, kleuter- of bewaarskool en die programme wat hulle volg aan al die plaaslike, provinsiale en nasionale vereistes vir kleuter- en/of bewaarskole voldoen.

Die aantal kinders in ʼn klas (onderwyser-kindverhouding) is belangrik. Waar moontlik, kies die dagmoeder, kleuter- of bewaarskool waar die laagste onderwyser-kindverhouding gehandhaaf word. Dit is gerusstellend as u weet dat u kind nie oorspoel voel deurdat daar te veel kinders in die klas is en dat hulle weinig aandag ontvang.

Terwyl u by die dagmoeder, kleuter- of bewaarskool besoek aflê, moet u baie deeglik kyk na die higiëne van die badkamers, kombuis, speelkamers en buiteterrein. Kyk of die vloere (ook die hoeke) skoon is, of die apparaat ordelik beskikbaar gestel word, of daar seep en toiletpapier in die badkamers is, ens. Kyk of daar trappe by die dagmoeder, kleuter- of bewaarskool is en of die handrelings by die trappe vir die kinders geskik en voldoende is. Kyk na die instandhouding van die apparaat. Is dit skoon, word dit goed in stand gehou en is dit veilig? Doen navraag oor toesig tydens vryspel buite. Vind ook uit of al die kinders noodwendig op dieselfde tyd buite speel en of daar ʼn rooster is wat daarvoor voorsiening maak dat verskillende ouderdomme (klasse) soms alleen op die buiteterrein is. Dit gee aan veral die jonger kinders die geleentheid om dit op meer van die apparate soos die glyplank, swaaie en klimraam te waag aangesien die ouer, groter, sterker en vinniger kinders dan nie ook op die buiteterrein is nie.

 

VEILIGHEID

Beskik die dagmoeder, kleuter- of bewaarskool oor brandblussers en is die noodnommers soos die van die polisie, brandweer, ambulans, ens. duidelik sigbaar en beskikbaar in die kantoor? Kyk na die veiligheid en toestand van die swaaie, glybane, klimrame, ens. Maak seker of die sandputte/-bakke aan die einde van die dag by die dagmoeder, kleuter- of bewaarskool en in die aand toegemaak word want anders speel die kinders in die dag daarin en die katte mors na skool daarin.

 

PERSONEEL

Doen navraag oor die kwalifikasies van die personeel en ook oor personeelwisseling. ʼn Hoё personeelwisseling is dikwels nie ʼn positiewe aanwyser nie. Die aanbevole ‘onderwyser/volwasse-kind-verhouding is nog nie nasionaal vasgestel nie en verskil van een dorp en een distrik na ʼn ander. ʼn Goeie aanduider kan wees:

 

 

OUDERDOMSINDELING

AANTAL PER VOLWASSENE

Babas

0 - 18 maande

± 6

Peuters

18 – 36 maande

± 15

en ʼn klashulp

Jong kinders

3 – 4/5 jaar

± 20

Graad R

Die jaar waarin die kind 6 word. (Bywoning van Graad R nog nie verpligtend nie.)

± 30

 

OMGEWING

Die omgewing moet helderkleurig, skoon en georden wees. Aangesien dit gerig is op kinders moet die speelapparaat geskik en veilig wees vir jong kinders om daarop te speel.

Die speelkamer moet nie lyk soos ʼn Graad 1 klas in die laerskool met rye en rye tafeltjies en stoeltjies en ʼn lessenaar vir die onderwyser nie. Hier werk die kinders in klein groepies en beweeg hulle vryelik, volgens eie keuse tussen die verskeidenheid aktiwiteite wat beskikbaar is. Slegs wanneer hulle rympies leer, liedjies sing, na stories luister of aan ʼn bespreking deelneem sit hulle by die ‘juffrou’ op die mat op die vloer. Die enigste keer wanneer die voorskoolse kinders almal saam by tafels en op stoele sit, is wanneer hulle verversings of ʼn ete (ontbyt of middagete) nuttig.

 

DIE OPVOEDKUNDIGE PROGRAM

Kinders jonger as drie jaar oud leer deur te speel. Hulle is hoofsaaklik besig met fisieke speletjies aangesien hulle nog leer om beheersd te sit, loop, staan, klim-en-klouter en ander fisieke take te doen. Kinders moet ook die geleentheid kry om alleen, in ʼn klein of in die groot groep aan aktiwiteite deel te neem.

Die grootste taak van ʼn dagmoeder, kleuter- of bewaarskool is om die kinders se taalontwikkeling te bevorder deur hulle woordeskat en gepaardgaande kennis oor sekere temas soos die gesin, kos wat ons eet, ens. uit te brei. Kleuter- en bewaarskole het nie die taak en die personeel het gewoonlik nie die toepaslike kwalifikasies om kinders te leer om te skryf en lees nie.  Kinders voor Graad 1 leer deur te speel. Hulle gebruik kaart en ander speletjies, leer om hul beurt af te wag, hulle kreatiwiteit te ontwikkel deur verf, teken en ander skeppende aktiwiteite, ens. Dikwels weet die personeel by ʼn kleuter- of bewaarskool nie wat die geskikte aktiwiteite is nie omdat hulle nie oor die toepaslike onderwyskwalifikasies beskik nie, en gryp hulle na die skoolgereedheidsprogramme en selfs Graad 1 werk om die kinders mee besig te hou. Sodoende doen hulle die kinders ʼn onreg aan om in Graad 1 van meet af aan deur onderwysers met  die nodige opleiding en kwalifikasies om die Graad 1 behoorlik te onderrig.

U as ouer moet nie wegdeins om keuter- of bewaarskole te gaan besoek nie. Skole waar die opvoedkundige program reg verloop en wat oor die nodige beleidsdokumente beskik, verwelkom besoeke van voornemende ouers. Hulle weet dat dit vir die ouer belangrik is om te weet dat hulle kinders in goeie hande is. Waar ouers en besoekers by ʼn deur of hek weggewys word of waar hulle net met vooraf gereelde tye besoeke kan aflê, is die moontlikheid baie groot dat daar heel moontlik minder aanvaarbare praktyke kan plaasvind wat nie deur ouers geredelik aanvaar sal word nie. Die personeel, ‘onderwysers’, behoort dit te geniet om nuwe kinders te ontmoet en hulle op hulle gemak te stel. Indien dit nie so is nie, moet u asb. nie eers oorweeg om u kind na daardie dagmoeder, kleuter- of bewaarskool te neem nie.

 

OUER BETROKKENHEID

Soek na skole waar ouerbetrokkenheid soos gedurende uitstappies, speletjiebyeenkomste,  werksdae ens. verwelkom word. Sodoende stig u waardevolle verhoudings met die personeel en ander ouers en kan dit alles net tot die voordeel van u kind en ook uself strek. U betrokkenheid by die bestuursliggame van  kleuter- of bewaarskole verseker dat u ook in spraak het op die kwaliteit van die onderrig en leergeleenthede van u kind.


MERK- OF VRAELYS WAT VOLTOOI KAN WORD NA AFLOOP VAN ‘N BESOEK VAN DIE OUER(S) MET HUL KIND(ERS) BY ‘N SENTRUM OM HULLE TE HELP OM ‘N INGELIGTE BESLUIT TE MAAK


Vrae t.o.v. die algemene versorging

 

  • Vir watter ouderdomme van kinders is die sentrum geregistreer?
  • Is daar openinge by die sentrum? Indien nie, hoe lank is die waglys?
  • Hoeveel kinders is by die sentrum ingeskryf?
  • Hoeveel kinders is in elke groep?
  • Wat is die ouderdomsgrense vir elke groep?

 

Vrae t.o.v. die inligtingstuk van die sentrum

 

  • Wat is die bedryfsure van die sentrum?
  • Wat is die aankomstye van die kinders soggens en vertrektye smiddae?
  • Is daar sekere tye gedurende die jaar wanneer die sentrum gesluit is?
  • Wat is die fooie wat gehef word vir: babas, peuters en kleuters (die verskillende ouderdomsgroepe by die sentrum)?
  • Is daar enige bykomede kostes soos bv. doeke, kos, vervoer, ens.? Hoe dikwels word ʼn baba se doeke geruil?
  • Word daar fooie gehef of ʼn afslag gegee indien my kind afwesig is a.g.v. siekte, vakansiedae of vakansies?

 

Vrae t.o.v. gebruikstaal/-tale by die sentrum

 

  • Wat is die amptelike gebruikstaal/tale van die sentrum?
  • Het ek ʼn keuse om my kind in ʼn klas te plaas waar die taal van my voorkeur die gebruikstaal is?
  • Word voorsiening gemaak vir die verskillende tale by die skool vir al die ouderdomsgroepe?

 

Vrae t.o.v. personeelkwalifikasies

 

  • Beskik al die personeel oor voldoende opleiding (ʼn kwalifikasie) om met babas, peuters en/of kleuters te werk?
  • Is daar ʼn opgeleide verpleegkundige by die sentrum?
  • Is daar ʼn moontlikheid dat enige nie-personeellid (studente, vrywilligers, ens.) kontak met my kind sal hê?
  • Word die verskillende groepe kinders elkeen aan ʼn spesifieke personeellid (en assistent) toegewys? Het elke groepie sy eie “juffrou” of “tannie”?
  • Let op of u kan sien dat die personeel werklik vir die kinders omgee.
  • Let op of die persoon bekwaam is om met die kinders in die spesifieke groep te werk. Straal die personeellid warmte uit t.o.v. die kinders in die groep?

 

Vrae t.o.v. sentrum se onderskeie skool- of sentrumbeleide

 

  • Wat is die skool/sentrum se Visie en Missie: Waarna streef hulle en hoe wil hulle dit bereik?
  • Wat is die beleid t.o.v. die veiligheid van kinders bv. toegangsbeheer, veiligheidshekke of in- en uittekenstelsel, wagte, ʼn ontruimingsplan, ens.? Hoe word kontak gemaak met ouers in gevalle waar kinders beseer is of siek geword het?
  • Wat is die beleid t.o.v. die beheer en toediening van medikasie, HIV/Vigs, kinders met koors of ʼn aansteeklike siekte, ongelukke/beserings en ander ernstige voorvalle tydens skoolure en die versorging van kinders wat gedurende die dag siek word?
  • Is daar gereelde geleenthede vir kinders om hul hande te was aangesien dit ʼn noodsaaklike voorkomingsmaatreël vir die verspreiding van siektes is?
  • Voedingsbeleid: Is die spyskaarte beskikbaar? Word die spyskaarte voldoende afgewissel, is die kos voedsaam en en is dit ouderdomstoepaslik?
  • Wat is die beleid t.o.v. die aankoms/vertrek van kinders? Is dit slegs aan persone wat die verantwoordelike ouers van die kind self geïdentifiseer/goedgekeur het?
  • Wat is die beleid t.o.v. die dissipline van die kinders? Vind uit hoe hulle die kinders dissiplineer en maak seker dat u daarmee saamstem.
  • Wat is die beleid t.o.v. die kommunikasie met ouers oor die algemene welsyn van hulle kinders? Word skriftelike vorderingsverslae aan die einde van elke termyn uitgereik?

 

Vrae t.o.v. die opvoedkundige program

 

  • Wat is die opvoedkundige dagprogram gedurende die oggend en wie is die ‘juffrou’? Indien dit ʼn voldagskool of –sentrum is, hoe lank rus/slaap die kinders, wat behels die middagprogram en wie is die verantwoordelike volwassenes in die middae?
  • Kry die kinders geleentheid om tussen ʼn verskeidenheid ouderdomstoepaslike aktiwiteite te kies?
  • Is die ‘juffrou’ se taalgebruik keuring en suiwer?
  • Is daar voorbeelde van spontane kinderkuns teen die mure van die speelkamers?
  • Is daar storieboeke in die speelkamers waardeur die kinders kan blaai.
  • Hoe streng word die aankoms- en vertrektye van kinders gehandhaaf?

 

Neem waar:

 

  • Lyk dit of die kinders gelukkig en tevrede is by die sentrum?
  • Is die binne- en buitespeelruimtes vir die kinders netjies en veilig en word dit goed in-stand gehou?
  • Is daar genoeg vars lug en lig in die speelkamer en kan ʼn gerieflike binne temperatuur gehandhaaf word?
  • Is daar genoeg oop ruimtes waar die kinders vryelik en veilig kan rond beweeg?
  • Word u as ouer met respek en as kenner van u kind se behoeftes hanteer?

 

Algemene gewaarwording tydens die besoek?

 

  • Hoe reageer u kind tydens die besoek aan en verkenning van die sentrum?
  • Is ander ouers opgewonde oor en tevrede met die versorging en vordering van hulle kinders by die sentrum?
  • Wat is jou natuurlike aanvoeling na die besoek aan die sentrum en gesprek met die hoof of bestuurder? U kan werklik ag slaan op u natuurlike aanvoeling (‘gut feeling’).


Met dank aan:

Freda Wilkens

Namens die NHSV

Nuus

Warm Brood

 

Die nuutste uitgawe van die maandblad van die ADV - Omgee-in-Aksie - het pas verskyn. Klik hier om dit te lees en/of in te teken daarop.

Login With Facebook

Soek